January 2020 – Issue 79

Uit die oog van ‘n Wes Kaapse graan boer. 

Jaar 2019 het met gemengde gevoelens begin. Ten spyte van ‘ n laer reënval jaar, het  sekere landbou omgewings hul reën op perfekte tyd in 2018 gekry , en ja,  jy weet, ander wag tot vandag nog vir ‘n paar druppels. Die Overberg omgewing het baie mooi begin en toe op einde Julie begin dinge regtig skeef loop oor alle sektore van die Landbou. Ek sê sektore, want dit was nie net die reën en klimaat wat gat om gegooi het nie, maar ook vrugte, druiwe, wol, rooivleis, pluimvee en so kan ons aangaan. O ja, moennie die grondherformingskwessie , die wankelende ekonomie en hoogs plofbare bankrot Staatsinstellings  vergeet nie.

Ek dink elkeen van ons kan vandag een of ander staaltjie vertel van bogenoemde. Ek kom verlede week ‘n nederige, maar welgestelde se kantoor binne waar, op ouder Afrikaner gewoonte, ons mekaar uitvra oor die normale, “Hoe gaan dit? Nee, baie goed (leuens). Hoe het 2019 jou behandel? Ag jy weet, droogte, en swak oes, markte ens. Oh?? Nou wat gaan jy doen?  Nee wat, gaan maar net aan. Nou hoe kan jy so sê? Die vorige skaap boer wat ek hier in die kantoor gehad het, van Namakwaland, het dieselfde gesê. Sy plase lyk soos n woestyn na al die droë jare. Hy sê hy gaan ook maar net aan? Hoe gaan jy aan as jy niks het om mee aan te gaan nie? Dis nou maar Afrikaner boer. Glo en vertrou met die knieê gekniel. ‘n Plan sal kom.

Nou ja, 2020 staar ons in die gesig. Meerderheid van ons probleme het defnitief nie opgeklaar nie.  Ons is almal aangewese op reën.  Het ons nou die droogte siklus se draaipunt bereik? Baie van die droogte geteisterde gebiede het wel hul eerste reëntjies gekry, maar soos ons praat, ‘Dit is steeds ‘n Groen Droogte” Opvolg reën  en skenkings is nou belangrik.  Ons kan asemhaal, maar nou is dit vir terugbaklei. Ek wens elke boer en sy werkers sterkte toe.

Ek wil graag klem lê op 2 dinge in Landbou. ‘n Slegte jaar is nie noodwendig sleg nie, mits jy dit positief benader en leer uit die verlede. Ek het regtig by baie insigewende, vanselfsprekende oplossings uitgekom.
Langtermyn data. Ek hoop van harte dat die jonger geslagte hul vaders se data gaan soek. Meerderheid ouer gardes se data is nog tussen hulle ore opgesluit, en as dit weg is, is jy as jong boer klaar op n agterstand. Hulle ken die langtermyn volhoubare praktyke. Hulle ken die ‘Ups and downs” van politiek. Hulle ken die swaar jare. Hulle ken die goeie jare. Hulle ken die jare van foute maak. Dit is maar die min van die baie wat jou vader en moeder jou kan gee. Jy as boer moet die holistiese benadering kan raak sien tussen die bogenoemde en ‘n voortbestaan kan maak. Dit gaan nie net oor jou plaas en jou boerdery nie, dit gaan ook oor jou en jou familie. Langtermyn verhoudings wat geld nie kan koop nie. Agter elke suksesvolle boer, bid ‘n boer se nederige vrou.

Evalueer jouself. Dit was vir my verstommend om te sien waar my denke aanvanklik begin het 20 jaar terug. Jy wil berge versit, jy sien, jy hoor, jy doen. En dan kom die eerste foute van jou dade. Dan weer regmaak wat jy verbrou. Nuwe tendense word beproef in jou omgewing. Alles klink so rooskleurig, en binne twee jaar het jy aanpassings gedoen  om dit te akkommodeer. Gaan goed vir ‘n jaar of twee, maar dan begin die langtermyn volhoubaarheids vrae opduik. Dan weer weg met die tendens.  Dit wat geboer word en hoe geboer word in jou omgewing, is dit wat oor geslagte reeds beproef is , en volhoubaar is. Doen dit eers perfek reg, en doen dan baie klein regstellings.  12% regstellings is alweer in die verkeerde kant van regstel.

As ek vandag een laaste brokkie inligting kan gee, en dis al wat jy sal onthou, gaan ek gelukkig wees. Om te kan boer in Afrika, is iets waarmee jy gebore is. Dit verg ‘n unieke persoon om dit te maak werk. Dit is nie ‘n gewone besigheid wat konkrete kontantvloei programme kan volg nie. Dit is nie n gewone 8 tot 5 werk nie. Dit is ’n volgehoue dag en nag beroep. Maak nie saak waar jy is nie, die besigheid los jou nie. As jy dit wel regkry om te boer soos ‘n gewone besigheid, dan los die besigheid jou. Hoe gaan die gesegde, “dis nou maar wors”.  Ek en jy is oorgelaat aan baie Genade en baie moed. Die slegte ding van ‘n boer is dat ons soms baie positief is oor persone wat hulp in die Landbou aanbied. Ek is dalk nou op n gevaarlike terrein, maar ek gaan dit vra, Wie is die eerlikste persoon wat jy ken? As dit iemand anders as jyself is, dan sal jy dalk weer moet gaan dink. Kom ek gee die antwoord, jy as boer is die enigste persoon wat moet verduidelik as iets die dag skeef loop in die besigheid

Ek hoop 2020 bring vir ons meer oplossings as bekommernisse. Sien julle by die Kongres.
Groete

January 2020 – Issue 79

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to top